top of page
Search
  • Writer's pictureNadia van Schalkwyk

Konneksie Perfeksie: Met of Sonder Draad?

Updated: Jun 11, 2021


Vesel is aan’t uitrol in Wellington en Paarl. Die hele Boland is behoorlik aan die gons daaroor. Dit is dalk binnekort (of reeds) ‘n diens wat ons aan jou kan bied. So, waaroor gaan die bohaai? Gaan dit bloot oor spoed, of is daar meer tot die storie? Lees verder om uit te vind hoe vesel vergelykbaar is met ons draadlose netwerk en of die neem van die vesel-duik die moeite werd is. Daar is verskeie faktore wat jy in gedagte kan hou wanneer jy oorweeg om ‘n skuif te maak.

Ons draadlose netwerk in ‘n neutedop: Draadlose internet is 'n veelsydige tegnologie wat internet vanaf een van ons torings direk deur die lug na jou huis of besigheid versprei. Die internet word via radiogolwe oorgedra (net soos jy in jou motor na die radio luister) en verbind jou WiFi-netwerk met die internet deur middel van 'n klein radio-antenna wat ons teen jou woning oprig. Het jy geweet dat ons toring werk vanaf ‘n enorme hoëspoed-vesellyn wat ons dan draadloos na jou toe versprei? Mens kan dit dus eintlik vlieënde vesel noem. 😊

Die voordele van ons draadlose netwerk:

Dis maklik. Die internet word deur middel van luggolwe gestuur en benodig geen telefoon- of kabellyne nie. Met ander woorde, jou tuin hoef nie opgegrawe te word nie. 😊 Ons spog ook met ‘n wagtydperk van slegs 1-3 dae tot installasie. Geen gewag nie! Dis geskik vir normale gebruik. Draadlose internet is 'n goeie keuse as jy ‘n maksimum lynspoed van 20-40Mbps benodig en wil hoëdefinisie videos stroom, musiek luister, groot e-posse stuur en ander webgebaseerde programme gebruik. Dis betroubaar. Ons Draadloos netwerk word deur onsself besit en bestuur. Ons kan jou dus verseker van ‘n eksie-perfeksie konneksie. Ons maak seker dat ons netwerk te alle tye genoegsame kapasiteit het, so daar is min tot geen “contention” wat jou internetspoed sal belemmer nie, selfs tydens piek-tye. Dis ‘n premium diens. Met veselinternet is internetverskaffers soos ons die middelmannetjie tussen jou en die veselverskaffer. Wanneer daar probleme is, moet ons dit aan hulle rapporteer en dan deurentyd aan jou terugvoer gee. Op ons eie netwerk is al die inligting wat ons benodig onder ons vingerpunte, so ons kan probleme tjoef-tjaf uitsorteer en ons tegniese towenaar blitsvinnig na jou huis toe stuur indien dit nodig is. Waar tegniese probleme met veselinternet tot 48h kan neem om uit te sorteer, is die wagtydperk op ons eie netwerk net gemiddeld 1-4 ure. Dis altyd aan. Ons het rugsteunmaatreëls op ons netwerk, soos ‘n ekstra vesellyn en batterystelsels op elke toring wat verseker dat ons netwerk aanlyn bly al is daar probleme met een van ons stroom-op veselverskaffers, of met Eskom. Jy kan dus ook ons internet gebruik tydens beurtkrag. Kontak ons gerus indien jy ‘n UPS sal wil aanskaf daarvoor. Dit kan saam met jou trek :) Ons toerusting is mobiel, so dit kan dadelik geskuif word indien jy verhuis en daar ontvangs is. Dis LOCAL en LEKKER! As jy ons plaaslike netwerk ondersteun, ondersteun jy Wellington se ekonomie en hou jy Afrikaans se naam hoog.


Draadloos se veselinternet - wat is dit nou eintlik? Vesel benut letterlik die snelheid van lig deur data oor te dra deur middel van glaskabels wat ondergronds aangelê word. Dit maak dit die vinnigste vorm van internetverbinding wat tans beskikbaar is. Vesel het 'n baie hoë datadravermoë en kan jou van ‘n blitsvinnige konneksie van tot 1Gbps voorsien. As gevolg van die groot toename in vesel in meeste dorpe het die bekostigbaarheid daarvan verbeter en die wagtye vir installasie aansienlik korter geword (dit is tans 1-2 weke, indien vesel reeds aktief is in jou buurt).

Die voordele van Draadloos se vesel: Dis blitsvinnig. Veselinternet het ‘n paar pakkette wat vinniger is as die maksimumspoed van 40Mbps wat ons kan bied op ons draadlose netwerk. Dit maak vesel ‘n goeie keuse vir baie groot huishoudings wat verskeie vebruikers het wat terselfdetyd die internet gebruik. Met die vinniger lyne wat vesel bied, kan meer verbruikers gelyktydig HD-video stroom, speletjies aanlyn speel en op die internet baljaar. Om jou ‘n idee te gee - daar kan 3-4 toestelle gelyk gekoppel wees aan ‘n 10Mbps lyn en 4-5 op ‘n 20Mbps lyn (soortgelyk soos op ons netwerk), 5-10 op ‘n 40-50Mbps lyn en 10+ op ‘n 100Mbps lyn. Dis simmetries. Veselinternetlyne se spoed is simmetries, so die oplaaispoed is net so vinnig soos die aflaaispoed. Dit maak dit makliker om van die huis af te werk en groot dokumente aanlyn op te laai en aan te stuur. Dis stabiel. Omdat vesel ondergronds is, is dit baie stabiel. Die veselkabels kan wel soms per ongeluk opgegrawe word, wat die vesel netwerk laat stilstaan tot dit herstel is. Dit gebeur gelukkig glad nie baie nie. Dis die regte keuse vir ernstige fliekvlooie en kubersoldate. Indien jy gelyktydig in 4K (ultra-hoëdefinisie) wil stroom op verskeie toestelle, is vesel jou beter keuse. As jy ‘n gretige aanlyn-speler is, word vesel ook hoogs aanbeveel omdat die “latency” op vesel netwerke oor die algemeen baie goed is. Op ons eie draadlose netwerk verskil die “latency” net met 10-15 millisekondes, wat ook nie te sleg is nie.


Keuses, keuses. So, vesel of Draadloos? Op die ou einde van die dag is die konneksie wat jy in jou huis kry, eintlik maar presies dieselfde op ons draadlose en vesel netwerk. Ons kan vir jou die perfekte konneksie gee op albei platforms. Die belangrikste is dat jy ‘n pakket en diens kies wat vinnig genoeg is vir die aantal verbruikers wat die lyn sal gebruik en moet besef dat ons met vesel net die middelmannetjie is.

Hier vir jou. Met of sonder draad, bly ons jou eerste keuse vir topklas internet. Kontak ons gerus indien jy dekking het vir vesel of oorweeg om te skuif in die toekoms. Ons sal dan die opsies en kostes met jou bespreek en jou help om die beste keuse te maak vir jou unieke behoeftes.

172 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page